Matrieks, hier is jou kans om Antarktika te besoek

‘n Vorige groep matrieks wat ‘n besoek aan Antarktika afgelê het. (Foto: verskaf)

Vyf Suid-Afrikaanse matrikulante staan die kans om ’n besoek van ’n leeftyd na Antarktika los te slaan.

Riaan Manser, Suid-Afrikaanse verkenner en stigter van die “Matrics in Antarctica”-program, sit sy jaarlikse tradisie voort om vyf belowende matrikulante op dié onvergeetlike verkenningstog te neem.

“Matrieks in Antarktika is op ’n unieke missie om nie net bewustheid oor die uitwerking van klimaatsverandering te skep nie, maar om gewilligheid onder sleutelrolspelers aan te wakker,” het Manser gesê.

“Dit is hoekom dit so belangrik is om die jeug, die toekomstige leiers, opgewonde oor bewaring te kry.”

Die vyf wenners sal van Kaapstad Internasionale Lughawe in ’n ALCI-vragvliegtuig na Antarktika geneem word. Daar sal hulle vir ses dae by Novolazarevskaya, ʼn Russiese navorsingsbasis, bly.

Dié ses dae sal gevul wees met verkenningstogte, wetenskaplike eksperimente en deelname aan ’n skoonmaakprojek. Matrieks sal ook in die tyd meer oor volhoubare ontwikkeling en bewaring leer.

Die vyf 2022-wenners kon weens die Covid-19-pandemie nie hul Antarktika-tog vroeër vanjaar meemaak nie, maar het die geleentheid gekry om die eiland Mauritius te ontdek en die inwoners se omgewingsprobleme beter te verstaan. Hul verkenningstog is na November vanjaar geskuif.

Skryf só in

Graad 11- en 12-leerders het tot en met 31 Oktober kans om vir die kompetisie in te skryf.

Die top-100 sal uit dié inskrywings gekies word, waarna dit na ’n top-50 en dan na ’n top-10 verminder sal word. Die top-10 sal op 1 Desember, oftewel Antarktikadag, bekend gemaak word.

Die top-10‑leerders sal in Januarie 2023 vir ’n kamp na die De Hoop‑natuurreservaat in die Wes-Kaap genooi word. Die top-5 sal ook tydens die kamp aangekondig word.

Besoek hierdie webwerf om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Nou pra' jý

Jy moet deel van Maroela-fontein wees om kommentaar te lewer.

of word deel

Geen kommentaar