Wêreldspan klim hul tennis-Everest uit

Die Wêreldspan spog met die silwerware. Foto: Twitter.

Dit was inderdaad ʼn opdraande stryd, maar die Wêreldspan het toe die toppunt van hul tennis-Everest teen die sterbelaaide Europese span in die Laverbeker bereik.

John McEnroe se troepe het die skouspel met 13 – 8 gewen en spelers soos Felix Auger-Aliassime en Frances Tiafoe het gewys dat hulle met die beste ter wêreld kan saamgesels.

En hulle moes ongetwyfeld op hul beste gewees het – die Europese span het immers met Roger Federer, Novak Djokovic, Stefanos Tsitsipas, Andy Murray en Rafael Nadal in hul geledere gespog.

“Die verskil tussen vanjaar en vorige toernooie is dat ons nou doodeenvoudig besluit het om nie handdoek in te gooi nie,” het McEnroe gesê.

“Ons het teen die tennis se Groot Vier (Federer, Nadal, Djokovic en Murray) gespeel, maar die omstandighede was dalk ʼn bietjie anders as wat dit tien of vyf jaar gelede sou gewees het. Ons het dus geweet dat ons ʼn kans staan om te wen.”

Federer het Vrydagaand sy laaste wedstryd op die ATP-toer gespeel toe hy kragte met Nadal teen Tiafoe en Jack Sock in ʼn dubbelspelwedstryd saamgesnoer het.

Die Wêreldspan-duo het die kragmeting  4-6, 7-6 en 11-9 gewen, maar vir die 24-jarige Tiafoe was dit ʼn baie spesiale voorreg om deel van die Switserse meester se afskeidspartytjie te wees.

“Ek wil vir Roger bedank dat ek deel van hierdie spesiale en wonderlike geleentheid kon wees. Hy het soveel vir die sport gedoen en ek is bly dat ek hom nie net ken nie, maar ook ʼn kollega en ʼn vriend kan noem. Hierdie tweede stel van sy lewe kan net so goed soos die eerste een wees,” het die jong Amerikaner gesê.

  • Uitslae:

Felix Auger-Aliassime en Jack Sock klop Matteo Berrettini en Andy Murray met 2-6, 6-3 en 10-8

Felix Auger-Aliassime klop Novak Djokovic met 6-3 en 7-6

Franes Tiafoe klop Stefanos Tsitsipas met 1-6, 7-6 en 10-8

Matteo Berrettini klop Felix Auger-Aliassime met 7-6, 4-6 en 10-7

Taylor Fritz klop Cameron Norrie met 6-1, 4-6 en 10-8

Novak Djokovic klop Frances Tiafoe met 6-1 en 6-3

Matteo Berrettini en Novak Djokovic klop Alex de Minaur en Jack Sock met 7-5 en 6-2

Casper Ruud klop Jack Sock met 6-4, 5-7 en 10-7

Stefanos Tsitsipas klop Diego Schwartzman met 6-2 en 6-1

Alex de Minaur klop Andy Murray met 5-7, 6-3 en 10-7

Jack Sock en Frances Tiafoe klop Roger Federer en Rafael Nadal met 4-6, 7-6 en 11-9

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Nou pra' jý

Jy moet deel van Maroela-fontein wees om kommentaar te lewer.

of word deel

Geen kommentaar