Rugby

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Die term "rugby" verwys hier na rugbyunie of "Rugby Union" soos wat die gebruik in Suid-Afrika is. Vir Rugby League, sien gerus daar.
Piktogram wat rugby aandui
'n Rugbyspeler ontsnap 'n duik tydens 'n rugbywedstryd in Wilmington, VSA
'n Rugbybal
'n Losskrum tydens die 2006 Super 14-seisoen

Rugby is 'n spansport wat volgens oorlewering ontwikkel het uit die reëls wat gebruik is om sokker te speel op die dorp Rugby in Engeland. Twee spanne, elkeen met 15 spelers, het die taak om meer punte as hul teenstanders aan te teken. Spelers speel met 'n eiervormige bal wat hulle in hulle hande of arms dra en mag die bal slegs agtertoe of sylangs oor die veld na mekaar aangee of dit dan vorentoe skop. Die opponerende span poog om die baldraer se vordering te stuit deur hom te duik of fisiek met die liggaam te keer. Wanneer die baldraer geduik is, moet hy die bal los en vind daar 'n stryd (losgemaal of 'n losskrum) plaas om balbesit.

Rugby word hoofsaaklik in die lande van die Britse Statebond gespeel en is van die gewildste sportsoorte ter wêreld. Dit is 'n gewilde somersport in die Verenigde Koninkryk, Argentinië, Australië, Ierland, Japan, Frankryk, Georgië, Kenia, Namibië, Nieu-Seeland, Roemenië, Suid-Afrika, Zimbabwe en die eilandnasies van die Stille Oseaan. In lande soos Engeland, Georgië, Madagaskar, Namibië, Nieu-Seeland, Papoea-Nieu-Guinee, Suid-Afrika en Wallis word die een of ander rugbyvariant as 'n nasionale sport beskou. In die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa, Tonga en Wallis is rugby die hoofsport.[1] In lande van die Britse Statebond met rugby as 'n tradisionele sport vir die wintermaande soos Australië, Engeland, Ierland, Namibië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis dien krieket as 'n tradisionele sport vir die somermaande.

Wêreldrugby (tot in 2014 die Internasionale Rugbyraad, IRR) is in 1886 as die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR) gestig en publiseer ook die reëls van die spel. Internasionale wedstryde word al sedert 1871 gespel toe die eerste wedstryd tussen Engeland en Skotland op Raeburn Place in Edinburg beslis is. Die Rugbywêreldbeker, wat in 1987 vir die eerste keer uitgespeel is, word al om die vier jaar beslis en is van die gewildste sportkompetisies wêreldwyd. Die Sesnasies-toernooi (Noordelike Halfrond) en Die Rugbykampioenskap (Suidelike Halfrond) is ander bekende internasionale toernooie wat jaarliks beslis word. Rugbywedstryde is al tydens internasionale sporttoernooie soos die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys, die Olimpiese Somerspele 1908 in Londen, die Olimpiese Somerspele 1920 in Antwerpen en die Olimpiese Somerspele 1924 in Parys beslis. Sewesrugby is in 1998 by die program van die Statebondspele opgeneem en vorm sedertdien deel van dié toernooi. Sewesrugby behoort ook sedert die Olimpiese Somerspele 2016 in Rio de Janeiro tot die Olimpiese sportsoorte en sal tydens die Olimpiese Somerspele 2020 in Tokio aangebied word.

Speltegniek[wysig | wysig bron]

Doellyn met vertikale pale en dwarsbalk

In rugby, anders as in sokker, word die hande gebruik om die bal te hanteer. 'n Speler kan egter slegs die bal agtertoe aangee na 'n ander speler of dit vorentoe skop. Dit beteken dat die spelers van 'n aanvallende span veld wen deur om die beurt die bal aan 'n medespeler aan te gee, vorentoe te hardloop om veld te wen ensovoorts totdat 'n speler uiteindelik geduik word en die proses weer van voor af begin. Elkeen van hierdie siklusse in die spel word 'n fase genoem.

Die doel van rugby is vir 'n span om meer punte as die teenstanders aan te teken. Spanne kan op verskeie maniere punte aanteken:

Aanteken van punte[wysig | wysig bron]

Die Springbokke hul drie teen Engeland tydens die Rugbywêreldbeker 2007
  • Deur die bal te plaas met afwaartse druk van enige punt op die liggaam van die middel tot by die nek op, oor die teenstanders se doellyn. ('n Drie, tans 5 punte werd).
  • Na die druk van 'n drie, probeer die span wat die drie gedruk het om die drie te verdoel: 'n speler skop na die pale vanaf 'n lyn loodreg vanwaar die drie gedruk is. Sy span verdien nog eens 2 punte indien hy die bal oorskop.
  • Deur die bal oor die dwarslat tussen die pale te skop. Dit kan plaasvind vanaf 'n strafskop wat die skeidsregter toeken na 'n oortreding deur die opposisie; of tydens die spel waar 'n speler die bal skepskop (die bal moet die grond tref voor hy hom skop) na die opponente se pale. Beide hierdie doele is 3 punte werd.

Vastespel[wysig | wysig bron]

Verskeie vorme van vastespel vind plaas, hoofsaaklik:

Afskoppe[wysig | wysig bron]

Italië skop af teen Skotland in die Sesnasies-toernooi. Let op na die Italiaanse spelers agter hul skopper

Aan die begin van die twee helftes van die wedstryd skop een kant die bal af. Daar word met die gooi van 'n muntstuk bepaal wie eerste gaan afskop. Die afskop vind plaas wanneer 'n speler van die een span 'n skepskop vanaf die middellyn neem. Die reëls bepaal dat die bal ten minste 10 meter ver moet trek voor dit die grond raak. 'n Algemene taktiek van die span wat afskop, is om die bal so hoog as moontlik te skop en dit nét oor die tien-meter stippellyn te laat val. Dit gee dan vir die skoppende span 'n kans om vir die bal te kompeteer of om dit te vang voordat die verdedigers dit kan vang. 'n Alternatiewe strategie is dikwels om die bal diep in die opponente se gebied in te skop, om sodoende soveel moontlik gebiedsvoordeel te verkry.

'n Kwartlyn afskop kan ook plaasvind. Dit word toegeken wanneer die aanvallende span die bal in die doelarea inskop en die verdedigende span die bal dooddruk. Indien die bal deur die aanvallers oor die doellyn geskop word en dit hou aan rol tot oor die doodlyn, het die verdedigende span die keuse van 'n kwartlyn afskop of 'n skrum op die plek vanwaar die aanvallende span die bal geskop het. Die kwartlyn afskop mag vanaf enige punt op (of agter) die kwartlyn waargeneem word.

Nota: In rugby, anders as sokker, word die wit kantlyne op die speelveld geag as buite spel te wees. As 'n speler dus op die lyn staan of daaraan raak sonder om daarbuite te trap word daar steeds bepaal dat hy uitgetrap het.

Duik[wysig | wysig bron]

'n Rugby-duik: duikslae moet onder die nek wees met die doel om die belemmering of gronding van die baldraende speler

'n Speler mag 'n opponent duik wat die bal dra deur hom vas te hou terwyl hy hom grond toe dwing. As 'n baldraer deur 'n opponent vasgehou word maar steeds voorwaartse momentum het, mag hy vorentoe oor die doellyn gly om 'n drie aan te teken. As 'n speler se knie of die bal die grond raak is dit genoeg om die speler as geduik te ag. 'n Geduikte speler moet die bal los en die speler wat die duikslag uitgevoer het moet hom ook uitlos en weg beweeg om sodoende die bal beskikbaar te stel sodat 'n losskrum kan plaasvind. Indien 'n baldraer vasgehou word maar nie op die grond vasgehou word nie, word dit nie as 'n duikslag beskou nie en word daar normaalweg 'n losgemaal gevorm.

Spelers sal dikwels doelbewus grond toe gaan eerder as om toe te laat dat daar 'n losgemaal vorm om voordeel te trek uit die reëls wat losskrums en losgemale beheer. Wanneer 'n speler grond toe gegaan het en daar is ten minste twee ander spelers wat oor die bal stoot (gewoonlik deur aanmekaar by die skouers te bind in 'n poging om die bal te wen) word dit as 'n losskrum geag. Geen speler mag verby die agterste voet van hul spanlede beweeg tensy hulle aan die losskrum gebind is nie. As 'n speler dit doen en aan die spel deelneem, deur byvoorbeeld aan die bal te raak, word hy as onkant geag. Die losskrum word gewoonlik beëindig wanneer 'n speler in die losskrum 'n houvas op die bal kan kry om selfs daarmee te hardloop of dit uit te gee (of as die skrumskakel dit onder die voete van die agterste spelers in die losskrum kan optel). Die span wat nie besit het nie word toegelaat om aktief mee te ding in 'n losgemaal om besit van die bal deur dit uit die baldraer se hande uit te ruk. Dit is daarom gewoonlik makliker om besit van die bal in 'n losskrum te behou (waar die opponente nie aan die bal mag raak nie) as in 'n losgemaal. 'n Losskrum laat 'n span ook gewoonlik toe om die bal vinniger te wen en dan weer daarmee te beweeg en sodoende weer 'n volgende aanval te loods voordat hulle tyd het om te herorganiseer.

Daar is 'n aantal reëls wat bepaal hoe 'n duikslag uitgevoer mag word, die mees noemenswaardige daarvan is dat 'n speler nie toegelaat word om iemand bo die skouers vas te vat nie (die nek en kop is buite die reëls) en verder moet die duiker 'n poging aanwend om sy arms om die speler te vou om sy duikslag te voltooi. Dit is onwettig om 'n speler met die voet of 'n been te pootjie, maar hande mag ingespan word (in die algemene taal na verwys as 'n skapie). 'n Nuwer reël bepaal ook dat 'n speler wat die bal dra, nie deur 'n verdediger met 'n boorvat (Engels: en: spear tackle) grond toe gebring mag word nie, met ander woorde, jy mag nie jou teenstander gevaarlik omdop grond toe nie.

Losskrum[wysig | wysig bron]

'n Losskrum tydens die wedstryd van Italië teen Frankryk tydens die Sesnasiereeks in 2011

'n Losskrum is 'n stryd om besit van die bal. Wanneer 'n speler geduik word, moet hy asook die duiker die bal laat gaan en poog om uit die pad te beweeg. Die eerste speler(s) wat by die los bal aankom van watter span ook al mag dan die bal optel; sodra daar egter meer as een speler aanmekaar gebind het met die bal by hul voete word dit beskou as 'n losskrum en mag ander spelers slegs aan die spel deelneem as hulle dit vanuit hul eie gebied doen. In 'n losskrum mag geen speler sy hande gebruik om die bal te wen nie, maar moet elke span probeer om die ander span terug te stoot en die bal met hulle voete na hulle kant toe terug te hak na hulle eie kant toe waar dit dan deur die skrumskakel of agterste speler in die losskrum (mag nie meer gebind wees nie) opgetel kan word. Spelers in 'n losskrum mag nie doelbewus gaan lê nie. Indien die bal vassteek in die losskrum, ken die skeidsregter die vaste skrum toe aan die span wat vorentoe beweeg het.

Die meeste oortredings kom normaalweg in die losskrums voor. Spelers probeer dikwels die terugwen van die bal deur die opponente te vertraag of om dit vinniger vir hulself te wen deur onwettiglik van hulle hande gebruik te maak, op die bal te lê, of deur doelbewus te gaan lê. Sulke oortredings word dan deur die toekenning van 'n strafskop aan die ander span gestraf.

As die aanvallende span op wettig wyse besit sou verloor hetsy deurdat die aanvallende speler die bal laat val het of deur die toedoen van 'n verdedigende speler wat die bal by hom afneem dan word daar gesê dat die besit "omgekeer" is. Ná die omgekeerde besit hou die spel weer aan behalwe dat die aanvaller/verdediger rolle van die spanne nou verander het.

Losgemaal[wysig | wysig bron]

Die All Blacks se Losgemaal teen die Springbokke tydens die Drienasiereeks in 2011

'n Losgemaal vorm as die baldraer vasgehou word en 'n speler van beide kante aan hom bind. Die opponent probeer om die bal by hom weg te raap en sy medespeler sal probeer om hom vorentoe te stoot. Wanneer 'n losskrum eers gevorm het mag ander spelers ook aansluit by die losgemaal maar moet hulle, net soos in die geval van 'n losskrum, dit vanaf hulle eie kant doen. As die losgemaal ophou om vorentoe te beweeg, ken die skeidsregter 'n skrum toe aan die span wat nie in besit was toe die losgemaal begin het. 'n Taktiek wat dikwels hier gebruik word om gebiedsvoordeel te verkry sonder om besit te verloor deurdat die losgemaal tot stilstand gedwing word, is om die bal in die losgemaal agtertoe aan te gee tot in die hande van 'n speler agter in die losgemaal, hy sal dan om die kant van die losgemaal rol om 'n nuwe losgemaal aan die gang te sit. Dit is teen die reëls (om veiligheidsredes) om die losgemaal af te trek grond toe. Skeidsregters is bewus daarvan dat baie spanne sal probeer om 'n losgemaal te stop deur dit doelbewus te laat val en hou daarom die beweging met valkoë dop.

Skrum[wysig | wysig bron]

'n Skrum op Ellispark

Skeidsregters ken gewoonlik skrums toe vir aanslane, waar 'n speler die bal vorentoe laat val het, of vir oortredings wat nie doelbewus aangegaan word nie. As 'n strafskop toegeken word vir 'n ernstiger oortreding, kan die span waaraan dit toegeken is, kies om eerder die skrum as die strafskop te neem. Dit word dan gewoonlik gedoen wanneer die aanvallende span naby die opponente se doellyn is en wil probeer om die teenstanders se voorspelers almal op een punt bymekaar te trek om hulle agterlyn meer spasie te gee of as hulle glo dat hulle, hul teenstanders oor die doellyn kan stoot om sodoende 'n "oorstootdrie" aan te teken.

Lynstaan[wysig | wysig bron]

'n Lynstaan op Ellispark gedurende 'n wedstryd tussen die Cats en die Sharks in 2006

Wanneer die bal uit is ken die skeidsregter 'n lynstaan toe. Die voorspelers van elke span staan dan in twee lyne 'n meter uitmekaar, 5 tot 15 meter vanaf die kantlyn af, uit. As die bal vanaf 'n strafskop af uit is, word die ingooi aan die span wat geskop het toegeken, indien nie sal die ingooi aan die ander span toegeken word. Beide spanne kompeteer om besit van die bal en spelers mag ook hulle spanmaats oplig.

Spelerposisies[wysig | wysig bron]

Die voorspelers is in die skrum, terwyl die agterspelers oor die veld versprei is

'n Rugbyspan bestaan uit 15 spelers, agt voorspelers met nommers van 1 tot 8 en sewe agterspelers wie se truie van 9 tot 15 genommer is. Afhangende van die spesifieke kompetisie se reëls kan daar tot soveel as 7 plaasvervangers ook wees.

Die hoofrol van die voorspelers is om besit van die bal te wen en vir die span te behou. Hulle neem aan die vastespel deel (soos skrums en lynstane) en die los spel (soos losskrums en dryfmaalbewegings). Oor die algemeen is die voorspelers groter en sterker as agterspelers, maar ook stadiger. Voorspelers speel ook 'n rol in die vorentoe dra van die bal, maar oor die algemeen doen hulle dit deur in die opponente se voorspelers in te dryf, eerder as óm hulle te probeer hardloop.

Die rol van die agterspelers is om die spel vorentoe te beweeg deur met die bal te hardloop of die bal te skop. Die losskakel is gewoonlik die besluitnemer, oor of daar geskop of gehardloop gaan word. Gewoonlik teken die agterspelers meer drieë aan, hulle is ook gewoonlik kleiner en daarom ratser en vinniger as die voorspelers.

Die diagram hieronder dui die posisies in die 15-manspan aan:

Spelerposisies in rugby

'n Skeidsregter beheer die wedstryd en word deur twee assistent-skeidsregters (voorheen lynregters) aan weerskante van die veld bygestaan. In groter professionele wedstryde is daar ook 'n TV-skeidsregter (gewoonlik op die pawiljoen) wat die veldskeidsregter bystaan in die neem van besluite met behulp van TV-opnames.

Rugbylande[wysig | wysig bron]

Japannese en Walliese ondersteuners tydens die Rugbywêreldbeker 2007

Die groot rugbyspelende lande bestaan uit die nasies van die "Noordelike Halfrond" wat deelneem aan die Sesnasies-toernooi: Engeland, Frankryk, Ierland, Italië, Skotland en Wallis en die lande van die "Suidelike Halfrond" wat deelneem aan die Rugbykampioenskap (voorheen die "Drienasiesreeks"): Argentinië, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Die Britse en Ierse Leeus toer eenkeer al om die vier jaar en kies dan die beste spelers vanuit Engeland, Ierland, Skotland en Wallis. Die jongste toer van die Britse en Ierse Leeus na Suid-Afrika was in 2009 en, volgens die webwerf Globalrugbyresults.com, word die volgende Suid-Afrikaanse toer vir 2021 beplan.[2]

Dan is daar ook die "kleiner nasies" wat gekwalifiseer het vir die Rugbywêreldbeker: Kanada, Fidji, Georgië, Japan, Namibië, Roemenië, Samoa, Spanje, Tonga, Verenigde State en Uruguay. Vir verdere besonderhede sien die Lys van internasionale rugbyspanne. Rugby is die nasionale sport van Wallis, Nieu-Seeland, en die Stille Oseaanlande soos Fidji, Samoa en Tonga.

Spanne[wysig | wysig bron]

Internasionale spanne[wysig | wysig bron]

Lidlande van Wêreldrugby volgens status:

   Lid-unies

   Geassosieerde unies

   Nie-lidlande

Die groot internasionale spanne wat in Wêreldrugby verteenwoordig is, is:

Toernooie[wysig | wysig bron]

Rugbywêreldbeker[wysig | wysig bron]

Die Webb Ellis-beker is die belangrikste trofeë in Rugby en word al om die vier jaar tydens die Rugbywêreldbeker uitgespeel

Die Rugbywêreldbeker vind al om die vier jaar plaas. Die Springbokke van Suid-Afrika is die huidige wêreldkampioen nadat hulle op 2 November 2019 vir Engeland 32–12 geklop het op die Internasionale Stadion Jokohama, Japan. Dit was die derde keer dat Suid-Afrika die Wêreldbeker omhoog kon hou. Die eerste keer was hul oorwinning oor Nieu-Seeland op 24 Junie 1995 in Johannesburg en later oor Engeland op 20 Oktober 2007 in Saint-Denis. Die komende Rugbywêreldbeker 2023 sal tussen 8 September en 21 Oktober in Frankryk gehou word.

Sesnasie-toernooi[wysig | wysig bron]

Die eerste treë na die moderne Sesnasies-toernooi is alreeds in 1871 gegee toe Engeland met een doel teen Skotland te Raeburn Place, Edinburg verloor het. In die 1880's het beide Wallis en Ierland hul aangesluit en is die Home International Championship begin. Frankryk het in die 1900's by die span aangesluit en in 1910 is die term Vyf Nasies vir die eerste keer gebruik. In 2000 het Italië ook by die toernooi aangesluit, wat gelei het tot die moderne Sesnasie-kompetisie.

Rugbykampioenskap[wysig | wysig bron]

Die Rugbykampioenskap is 'n jaarlikse rugbykompetisie in die Suidelike Halfrond tussen die nasionale spanne van Argentinië, Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland. In 2019 is die reeks vanaf 20 Julie tot 10 Augustus gespeel. Die lande se spanne word onderskeidelik die Pumas, Springbokke, Wallabies en All Blacks genoem. Voordat Argentinië bygevoeg is tot die kampioenskap in 2012, was die reeks bekend as die Drienasiesreeks. Sedert die aanvang van die Drienasiesreeks in 1996 is die wedstryde tussen Australië en Nieu-Seeland ook gebruik om elke jaar die wenner van die Bledisloebeker te bepaal. Australië en Suid-Afrika ding om die Mandela Uitdaagplaat mee, terwyl Nieu-Seeland en Suid-Afrika die Vryheidsbeker uitspeel.

Ander toernooie[wysig | wysig bron]

Die Curriebekertrofee word tydens Suid-Afrika se oudste en belangrikste plaaslike rugbykompetisie uitgespeel en dateer terug na 1889

Internasionale trofeë[wysig | wysig bron]

Die Bledisloebeker is een van die oudste trofeë in Rugby en word sedert 1932 tussen Australië en Nieu-Seeland uitgespeel

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

William Webb Ellis (1806–1872) word dikwels as "vader van rugby" beskou
Die skoolgebou van die Public School van Rugby

Die legendariese storie oor die oorsprong van rugby, wat vertel dat 'n jong man genaamd William Webb Ellis die bal opgetel en begin hardloop het daarmee tydens 'n sokkerwedstryd by 'n skool te Rugby is waarskynlik 'n verdigsel. Die trofee van die Rugbywêreldbeker dra egter die naam van Webb Ellis ter ere van hom en 'n plaat ter 'herdenking' van die 'prestasie'.

Rugby as 'n spel het 'n lang tradisie in Engeland en rugbywedstryde het waarskynlik al vir tweehonderd jaar by die Rugbyskool plaasgevind toe drie seuns in 1845 vir die eerste keer 'n stel reëls vir die spel gepubliseer het. Voor die vorming van die Football Association in Oktober van 1863 het elke span onderling ooreengekom op 'n stel reëls voordat hulle begin speel het.

Rugby kan op die wêreld se eerste "Voetbalklub" aanspraak maak, deurdat die "Guy's Hospital Football Club" al in 1843 in London gestig is deur oudleerlinge van die Rugbyskool. 'n Aantal klubs is gevorm om rugby te speel volgens die reëls van die Rugbyskool. "Blackheath Rugby Club" wat in 1858 gestig is, is een van die wêreld se oudste oorlewende rugbyklubs.

"Blackheath Rugby Club" was 'n stigterslid van die "Football Association". Toe dit egter duidelik word dat die FA nie sou instem tot reëls wat toelaat dat spelers die bal optel en daarmee hardloop nie ('n fundamentele deel van 'n rugbywedstryd), het Blackheath hom vanuit die FA onttrek, minder as 'n maand na die aanvangsvergadering. Ander rugbyklubs het hul voorbeeld gevolg en nie by die FA aangesluit nie.

Vir die volgende paar jaar het rugbyklubs voor die aanvang van elke wedstryd op 'n stel reëls ooreengekom, tot en met die vorming van die Rugby Football Union op 26 Januarie 1871 wat gelei het tot die standaardisering van die reëls vir alle klubs in Engeland wat die spel, gebaseer op die oorspronklike Rugbyskoolreëls, gespeel het. Binnekort het die meeste lande met 'n noemenswaardige rugbyspelende gemeenskap hulle eie nasionale unies gestig. In 1886 het die Internasionale Rugbyraad (IRR) tot stand gekom en die oorkoepelende reëlgewende gesagsorganisasie vir rugby geword. Die RFU het dit in 1890 as sulks erken.

Vir meer oor die geskiedenis van rugby in Suid-Afrika, lees die artikel oor die Springbokke.

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Rugby History in Fiji". Teivovo. Besoek op 6 Oktober 2007. [dooie skakel]
  2. "British & Irish Lions Tours to South Africa" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Augustus 2016. Besoek op 14 Januarie 2020.

Verdere leesstof[wysig | wysig bron]

  • (en) Tony Collins: The Oval World – A Global History of Rugby. 2. Aufl., Bloomsbury, London 2016, ISBN 978-1-4088-3157-1.
  • (en) Tony Williams u. John McKittrick: Rugby Skills, Tactics and Rules. 4. Aufl., Bloomsbury, London 2015, ISBN 978-1-4729-1372-2.
  • (en) Cick Cain u. Greg Growden: Rugby Union for Dummies. 3. Aufl., Wiley & Sons, Hoboken 2011, ISBN 978-1-119-99092-5.
  • (en) Huw Richards: A Game for Hooligans – The History of Rugby Union. Mainstream, Edinburgh 2007, ISBN 978-1-84596-255-5.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]


Nasionale Rugbyunies van Wêreldrugby

Argentinië | Australië | Kanada | Engeland | Fidji | Frankryk | Georgia | Ierland | Italië | Japan | Namibië | Nieu-Seeland | Roemenië | Samoa | Skotland | Suid-Afrika | Spanje | Tonga | Uruguay | VSA | Wallis | Zimbabwe

Olimpiese somersporte Logo van die Olimpiese Spele

Somerspele: Atletiek · Basketbal · Boks · Boogskiet · Driekamp · Fietsry (Bergfietsry · BMX · Bergfietsry · Pad) · Gewigoptel · Gholf · Gimnastiek (Artistiek · Ritmies · Trampolien) · Handbal · Judo · Kanovaart (Slalom · Snel) · Moderne vyfkamp · Ruitersport (Dressuur · Driefasekompetisie · Spring) · Pluimbal · Roei · Seiljagwedvaart · Sewesrugby · Skermsport · Skyfskiet · Sokker · Stoei (Grieks-Romeins · Vrystyl) · Taekwondo · Tafeltennis · Tennis · Veldhokkie · Vlugbal (Strandvlugbal) · Watersport (Gesinchroniseerde swem · Sierduik · Swem · Waterpolo)

Voormalige Olimpiese sporte: Baskiese pelote · Bofbal · Jeu de paume · Krieket · Kroukie · Lacrosse · Motorbootresies · Polo · Rackets · Roque · Rugby · Sagtebal · Toutrek