Tjek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Voorbeeld van 'n tjek.

'n Tjek is 'n skriftelike opdrag aan 'n bank om 'n spesifieke bedrag geld aan 'n spesifieke persoon of instelling uit die tjekskrywer se rekening oor te betaal. Die drie partye wat betrokke is by die uitreik van 'n tjek is die trekker, nemer (ontvanger) en die betrokkene (bank). Die trekker se bankrekeningnommer en bankidentifikasiekode is altyd op die tjek gedruk.

Tjeks word meestal gebruik om groot somme geld te betaal, soos byvoorbeeld as 'n motor of huis aangekoop word. Deesdae word tjeks nie meer so algemeen gebruik nie. Persone gebruik al hoe meer kredietkaarte, debietkaarte en elektroniese bankdienste om oorbetalings te maak.

Hantering van tjeks[wysig | wysig bron]

Om tjeks te kan uitskryf moet 'n tjekrekening by 'n bank geopen word. Die bank sal die kliënt van 'n tjekboek voorsien. Kliënte kan ook eenmalige tjeks van hulle banke aanvra.

Die persoon wat die tjek uitskryf moet die datum, ontvanger se naam asook die bedrag in woorde en syfers daarop aandui. Om geldig te wees moet die tjek ook onderteken word. Nadat die tjek uitgeskryf is, moet die teenblaadjie ingevul word vir latere boekstawing. Indien 'n fout met die skryf van 'n tjek gemaak word, moet dit duidelik gekanselleer word deur die woorde "kanselleer" oor dit te skryf.

Tjeks verval na 'n sekere periode, en moet dus so spoedig as moontlik gewissel word. Die tydperk wissel gewoonlik van drie tot ses maande, waarna die tjek nie meer geldig sal wees nie.

Tipes tjeks[wysig | wysig bron]

Gekruisde tjek

'n Gekruisde tjek kan slegs deur die gemelde persoon in sy bankrekening inbetaal word. Dit verhoed dat iemand anders die betrokke tjek sal kan wissel as die tjek verloor of gesteel sou word. Alle tjeks behoort ter beveiliging gekruis te word, tensy die ontvanger versoek dat dit nie gedoen word nie.

Om 'n tjek te kruis word twee parallelle strepe op die tjek getrek, en die woorde "nie verhandelbaar" tussen die lyne geskryf.

Bankgewaarborgde tjek

'n Bankgewaarborgde tjek is 'n tjek waar die bank die uitbetaal daarvan waarborg. Die ontvanger is dus verseker dat hy wel die geld sal kry. Die nadeel is dat dit nie later deur die kliënt gestop kan word nie.

Kontanttjek

Die tipe tjek kan deur enige persoon by 'n bank vir kontant gewissel word.

Reisigerstjek

Reisigerstjeks kan by 'n bank bestel word voordat 'n reis onderneem word. Die tjeks word uitgereik in die denominasie(s) wat in die lande wat besoek gaan word aanvaar word. As voorbeeld kan reisigerstjeks in Amerikaanse dollars of Euro's bestel word na gelang van waarheen gereis gaan word.