Nepal

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
सङ्घीय लोकतान्त्रिक गणतन्त्र नेपाल
Sanghiya Loktāntrik Ganatantra Nepāl
Federale Demokratiese Republiek Nepal
Vlag van Nepal Embleem van Nepal
Vlag Embleem
Nasionale leuse:
जननी जन्मभूमिश्च स्वर्गादपि गरीयसी
(Nepali vir: "Jou moeder en vaderland is meer belangrik as die hemel")
Volkslied: Sayaun Thunga Phulka
(Nepali vir: "Gemaak van Honderde Blomme")
Ligging van Nepal
Hoofstad Katmandoe

27°42′N 85°19′O / 27.700°N 85.317°O / 27.700; 85.317

Grootste stad Katmandoe
Amptelike tale Nepali
Regering Federale parlementêre
republiek
Bidhya Devi Bhandari
Nanda Kishor Pun
Pushpa Kamal Dahal
Onafhanklikheid
Unifikasie
• Koninkryk verklaar
• Staat verklaar
• Republiek verklaar


25 September 1768[1]
15 Januarie 2007
28 Mei 2008
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
147 181 km2  (95ste)
56 827 myl2
2,8
Bevolking
 - 2011-skatting
 - Digtheid
 
26 494 504[2] (-)
180 / km2 (62ste)
518 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2016-skatting

$74,020 miljard[3]
$2 574[3]

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2016-skatting

$24,067 miljard[3]
$837[3]

MOI (2014) Green Arrow Up Darker.svg 0,548[4] (145ste)  –  medium
Gini (2010) 32,8[5] –  medium
Geldeenheid Roepee (NPR)
Tydsone
 - Somertyd
NPT (UTC+05:45)
nie toegepas nie (UTC+05:45)
Internet-TLD .np
Skakelkode +977

Nepal (Nepali: नेपाल [neˈpal] ), amptelik die Federale Demokratiese Republiek Nepal (सङ्घीय लोकतान्त्रिक गणतन्त्र नेपाल, Sanghiya Loktāntrik Ganatantra Nepāl), is 'n landingeslote land in Suid-Asië. Dit is tussen die Volksrepubliek van Sjina in die noorde en Indië in die suide binne die Himalaja geleë. Die hoofstad en grootste stad is Katmandoe. Nepal grens in die noorde aan die Sjinese outonome gewes Tibet en in die ooste aan die Indiese deelstaat Sikkim.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Koningin Rani van Nepal in 1920
Die voormalige koninklike paleis in Gorkha

Nepal het 'n lang geskiedenis wat teruggaan tot voor die begin van die Christelike jaartelling en is die geboorteplek van Boeddha. As gevolg van die land se ligging was die land nog altyd gevoelig vir Indiese en Tibettaanse invloed.

Die land het in 1962 'n nuwe grondwet verkry, waarvolgens die koning se mag aansienlik gestyg het en politieke partye verbied is. In plaas van die partye het die koning 'n "partylose demokrasie" gekies: 'n parlement waarvan 15% uit partylose lede bestaan wat deur die volk verkies is en 85% bestaan uit lede wat deur die koning benoem word. Na 'n volksopstand in 1990 het die toenmalige Koning Birenda hierdie stelsel afgeskaf en 'n demokratiese grondwet ingevoer.

Op 1 Junie 2001 is die koninklike huis byna uitgeroei deur Kroonprins Dipendra. Hy was kwaad vir sy ouers omdat hulle nie sy keuse vir 'n eggenote goedgekeur het nie. Hy het sy vader, Koning Birenda, en sy moeder, Koningin Aishwarya, doodgeskiet en ook nog 'n aantal ander koninklike familielede vermoor, waaronder sy broer en suster, twee ooms en twee tantes. Hy het homself ook geskiet, waarna hy drie dae later beswyk het. Na sy dood is een van sy ooms, Gyanendra, as die nuwe koning gekroon.

Gyanendra het in 2002 tydelik weer die hef in die hand geneem, maar later in die jaar is die demokrasie herstel. Op 1 Februarie 2005 het hy egter weer alle mag in sy hande geneem en die grondwet buite werking gestel. Hy het die eerste minister afgedank en self dié posisie ingeneem. Die koning het Minister Deuba kwalik geneem dat hy nie in staat was om die vrede in die land te herstel nie. Gyanendra het tot 2006 as gesaghebbende monarg geregeer, maar is in 2006 weer gedwing om sy mag prys te gee.

Politiek[wysig | wysig bron]

Nepal se huidige president: Bidhya Devi Bhandari

Die regering van Nepal was tot 1990 'n absolute monargie. Koning Birendra het ná 'n volksreferendum staatshervorming deurgevoer en Nepal omvorm tot 'n parlementêre demokrasie. Die stryd tussen die verskillende politieke partye lei egter tot 'n burgeroorlog in Nepal. Die laaste koning probeer meer mag vir homself behou. Hy hoop om só die opstand en ander probleme meer effektief aan te pak. Teen die begin van 2005, en na 'n tydperk van erge menseregteskendings in Nepal, ontbind die koning die parlement.

Tussen 1996 en 2006 het 'n burgeroorlog in Nepal gewoed, waarin meer as 12 000 mense omgekom het. Met tussen 10 000 en 15 000 stryders het die Maoïstiese opstandelinge meer as 60% van Nepal beset. Hul hoofdoel was om Koning Gyanendra te onttroon en 'n kommunistiese nasie te stig, soos die Volksrepubliek van Sjina na die revolusie. Ondanks die feit dat Gyanendra buitelandse steun geniet het, het die rebelle steeds meer gebied gewen. Op 21 November 2006 is 'n vredesooreenkoms tussen die demokratiese regering en die Maoïstiese rebelle gesluit.

Op 28 Desember 2007 het 'n oorgrote meerderheid van die Nepalese parlement vir die afskaffing van die monargie gestem. Die Nepalese Grondwetgewende Vergadering het op 28 Mei 2008 besluit om hierdie wet amptelik in werking te stel, waarmee die Koninkryk Nepal verander is na die Demokratiese Federale Republiek Nepal.

Politieke partye[wysig | wysig bron]

Die Singha Durbar-paleis, setel van die Nepalese regering in Katmandoe

Sedert die einde van die 1940's bestaan die politiek in Nepal uit drie verskillende politieke strominge:

  • Kongres: Die Nepalese Kongresparty is 'n gematigde sosialistiese party, waarin die Koirala-familie heelwat invloed besit, soos die huidige premier Khadga Prasad Sharma Oli. Hulle was vroeër voorstanders van 'n konstitusionele monargie in die land, maar sedert die beëindiging van die burgeroorlog het die party die idee van die vorming van 'n republiek in Nepal aanvaar.
  • Kommuniste: Die Kommunistiese Party van Nepal is reeds in 1949 gestig, maar word eers later 'n dominante politieke party in die parlement. Die Kommunistiese Party van Nepal verbrokkel in 1994, waaronder ook die Maoïstisme. Hierdie party beywer hom vir die beëindiging van die burgeroorlog buite die parlementêre sisteem.
  • Royaliste: Die Rastriya Prajatantra Party is 'n regse, pro-monargistiese politieke party in Nepal. Tydens die laaste verkiesing in 2008 verower die party 8 van die 601 setels in die parlement.

Bestuursindeling[wysig | wysig bron]

Nepal word staatkundig onderverdeel in 14 sone, wat op hul beurt weer onderverdeel word in 75 distrikte.

Bevolking[wysig | wysig bron]

'n Nepalese sadhoe

Die bevolking van Nepal woon vernaamlik in die lae gebiede langs die grens met Indië en in die vallei rondom Katmandoe. Die gemiddelde lewensverwagting in Nepal is 65,46 jaar. Die bevolking groei met ongeveer 1,281% per jaar.

Die land huisves talle etniese groepe, waaronder die Newards, Bhote, Rai, Limbu, Sjerpa, Gurung, Tamang, Magar, Thakali, Brahman en ander.

Die meerderheid van die bevolking (80,6%) is aanhangers van Hindoeïsme. Die grondwet bepaal dat Nepal 'n "hindoekoninkryk" is, maar Hindoeïsme is nie ingestel as die staatsgodsdiens nie. Boeddhisme speel ook 'n groot rol, met volgelinge wat 10,7% van die bevolking uitmaak. Verder hang 4,2% Islam aan en 3,6% die inheemse Kirant-geloof aan.

Op 19 Mei 2006 het die Huis van Afgevaardigdes van Nepal aangekondig dat daar voortaan 'n skeiding tussen kerk en staat sou wees, alhoewel die land steeds die enigste amptelike Hindoe-land ter wêreld bly.

Die land se amptelike taal is Nepali en word deur ongeveer 60% van die bevolking gepraat. Die taal word in die Devanagari-skrif geskryf en stam van die antieke Sanskrit-taal af. Naas Nepali word daar ook ander plaaslike tale en dialekte gepraat, soos Maithili, Tamang en Bhojpuri.

Geografie en klimaat[wysig | wysig bron]

Nasa-Satellietbeeld van Nepal
Topografiese kaart van Nepal

'n Groot gedeelte van Nepal is baie bergagtig. Agt van die tien hoogste berge ter wêreld is in Nepal geleë, waaronder ook die hoogste, Berg Everest. In die suide van Nepal, langs die grens met Indië, is laerliggende gebiede. Ongeveer 20% van die land se oppervlak kan vir landbou benut word. Nepal word van suid na noord in drie gebiede gedeel, die laagland in die suide, heuwels en lae berge in die middel en die Himalaja in die noorde.

As gevolg van die groot hoogteverskille besit die land uiteenlopende klimaatsgebiede, van 'n hoë bergklimaat in die Himalaja, tot 'n subtropiese klimaat langs die grens met Indië.

Die ooste van Nepal kry ongeveer 2 500 mm reën per jaar, terwyl die sentrale deel rondom Katmandoe ongeveer 1 420 mm per jaar kry en die westelike gebiede ongeveer 1 000 mm.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Straattoneel in Katmandoe
'n Besoedelde rivier in Katmandoe
Nepalese vroue plant rys

Nepal is 'n ontwikkelende land met 'n lae gemiddelde inkomste. In 2001 was die gemiddelde jaarlikse persoonlike inkomste slegs 240 Amerikaanse dollar.

Werklike armoede[wysig | wysig bron]

Heelwat mense in die stede en op die platteland ken armoede. Volgens die ontwikkelingsprogramme van die Verenigde Nasies leef 30,9% van die bevolking in Nepal onder die broodlyn.[6]

Landbou[wysig | wysig bron]

Landbou is die belangrikste deel van die ekonomie en verskaf werk aan byna 80% van die bevolking. Die waardetoevoeging van die landbou bedra ongeveer 40% van die Bruto binnelandse produk (BBP). Landbouproduksie styg met ongeveer 5% per jaar, wat meer is as die bevolkingsgroei van 2,3%.

Nywerheid[wysig | wysig bron]

Nywerhede verwerk meestal landbouprodukte soos goiing, suikerriet, tabak en graan. Die vervaardiging van tekstiel en tapyte ondervind ook snelle groei. Byna 80% van die waarde van uitvoere bestaan uit industriële produkte. Die waarde van die industrie bedra ongeveer 22% van die BBP.

Toerisme[wysig | wysig bron]

Toerisme is 'n belangrike bron van inkomste vir die land. Buitelandse toeriste word veral deur die ongereptheid van die land en die Himalaja aangetrek. Toerisme is ook een van die min sektore waarin buitelandse belegging in Nepal plaasvind.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) Nepal5”. Royalark.net. URL besoek op 2 November 2015.
  2. (en) National Population and Housing Census 2011 (National Report)”. Central Bureau of Statistics (Nepal). URL besoek op 26 November 2012.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 (en) Nepal”. Internasionale Monetêre Fonds. URL besoek op 5 Augustus 2016.
  4. (en) 2015 Human Development Report”. United Nations Development Programme: 2015. URL besoek op 5 Augustus 2016.
  5. (en) Gini Index”. Wêreldbank. URL besoek op 2 Maart 2011.
  6. (en) UNDP: Human development indices – Table 3: Human and income poverty (Population living below national poverty line (2000–2007))

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.


 
Lande en gebiede in Asië

Lande: Afghanistan | Armenië2 | Azerbeidjan1 | Bahrein | Bangladesj | Bhoetan | Broenei | Egipte | Filippyne | Georgië1 | Indië | Indonesië | Irak | Iran | Israel | Japan | Jemen | Jordanië | Kambodja | Kasakstan1 | Katar | Kirgisië | Koeweit | Laos | Libanon | Maledive | Maleisië | Mianmar | Mongolië | Nepal | Noord-Korea | Oesbekistan | Oman | Oos-Timor | Pakistan | Rusland1 | Saoedi-Arabië | Singapoer | Siprus2 | Sirië | Volksrepubliek van Sjina (Sjina) | Sri Lanka | Suid-Korea | Tadjikistan | Thailand | Turkmenistan | Turkye1 | Verenigde Arabiese Emirate | Viëtnam

Omstrede gebiede: Abchasië - Nagorno-Karabach - Noord-Siprus - Palestina - Republiek van Sjina (Taiwan) - Suid-Ossetië

Afhanklike gebiede: Australië: Kerseiland - Kokoseilande | Verenigde Koninkryk: Akrotiri en Dhekelië2 - Britse Indiese Oseaangebied | Volksrepubliek van Sjina: Hongkong - Macau

1. Land deels in Europa. 2. Geografies in Asië, maar gereeld beskou as deel van Europa a.g.v. kulturele en historiese oorwegings.

Lande van: Afrika - Europa - Noord-Amerika - Oseanië - Suid-Amerika
Karibiese gebied - Midde-Ooste - Sentraal-Amerika