Sterrebeeld
'n Sterrebeeld is 'n groep sterre wat 'n patroon in die naghemel vorm, maar anders nie in enige verband met mekaar staan nie. Die tradisie om bepaalde beelde in die sterrehemel te sien, bestaan by alle volkere. By die vorming van sterrebeelde is daar soms verbasende ooreenkomste dwarsoor die wêreld.
Die huidige sterrebeelde is 'n erfenis van die Mesopotamiese, Griekse en Arabiese sterrekykers, wat 'n ryk universele mitologie geskep het. Van die sterrebeelde het baie ook Afrikaanse name, alhoewel die meeste sterrekundiges voorkeur aan die wetenskaplike Latynse benamings gee.
In 1928 en 1930 het die Internasionale Sterrekundige Vereniging in Leiden (Nederland) die 88 moderne sterrebeelde en hulle koördinate vasgelê en tegelykertyd die besluit geneem om geen nuwe beelde meer by te voeg nie. Enige sterrekundige voorwerpe wat in die toekoms ontdek sou word, sal as dele van die bestaande sterrebeelde beskou word.
Presies die helfte van die moderne sterrebeelde was al in die Griekse antieke tyd bekend, sommige van hierdie 44 beelde is selfs nog ouer en dateer uit die tydperk van die Babiloniërs.
Die begin van die sterrekunde[wysig | wysig bron]
Die geskiedenis van die sterrekunde het moontlik saam met 'n ingrypende verandering in die menslike leefwyse begin - die oorgang van die jag na die landbou. Terwyl die vroeë mense plante net ingesamel het, het die bepaling van die juiste tydstip vir die saad en oes 'n noodsaaklikheid vir beskawings geword wat boerdery as 'n ekonomiese basis gehad het. Mense het natuurverskynsels soos reën noukeurig dopgehou.
Met die verfyning van die landboumetodes is wetenskappe ontwikkel wat 'n oriëntasie in tyd en ruimte moontlik gemaak het, soos wiskunde en sterrekunde. Dit is dus nie ongewoon dat volke soos die Babiloniërs, die Maya en Inka onafhanklik van mekaar en in verskillende lande en tydperke dieselfde wetenskaplike ontwikkelingspeil bereik het nie.
Ongelukkig is daar geen argeologiese vondse of oorlewerings wat uit die vroeë geskiedenis van die sterrekunde nie. Die vroegste bronne van sowat 5 000 jare gelede, byvoorbeeld uit Mesopotamië, is van beskawings wat reeds 'n baie hoë standaard van sterrekundige kennis gehad het. Die groot aantal sterrebeelde wat as dierefigure gesien word, dui daarop dat hulle in dié periode van die mensheidsgeskiednis afgebaken is toe die mens diere nie meer gejag het nie, maar hulle begin teel en beheers het.
Verder kan 'n mens 'n verbintenis tussen godsdiens, astrologie en die vroeë sterrekunde aanwys. Die sinchronisiteit van hemelse gebeurtenisse en oestye, wat vir die landbou uiters belangrik was, het tot die verering en aanbidding van die son, die maan en die sterre gelei.
Aangesien die meeste vroeë kalenders op die maanjaar met 354 dae berus het, is die sterre ook as 'n maat gebruik waarmee die wentelbaan van die maan noukeurig bepaal kon word.
Om die sterre as oriëntasie in die tydsverloop, op see en in die woestyne te kan gebruik, het mense begin om hulle as beelde beskou. Sterre is in twee kategorieë sterrebeelde saamgevat - groepe van sterre, wat die silhoeët van 'n dier, mens of voorwerp uitbeeld, soos byvoorbeeld Orion, die jagter, en enkele sterre, wat op sigself 'n figuur simboliseer, soos byvoorbeeld die sewe sterre van die Plejade.
Om die hemels dop te hou, is in die antieke Mesopotamië, Egipte en Griekeland as die edelste van al die wetenskappe beskou. Die priesters van Assirië en Babilonië het tot die hoogs ontwikkelde sterrekykers behoort; hulle het selfs daarin geslaag om die skynbare wenteling van die hemel waar te neem.
Griekse sterrekundiges het vanaf die sesde eeu v.C. begin om elemente van die Mesopotamiese, Persiese en Egiptiese hemelkunde, astrologie en mitologie saam te smelt en verder te ontwikkel. Die idee van die tekens van die diereriem, wat later die grondslag van die Westerse astrologie en sterrekunde sou vorm, gaan terug op die 5de eeu v.C.
Endoxus, 'n student van Plato, was die eerste Griekse sterrekundige wat die bekende beelde stelselmatig begin oplys het. Claudius Ptolemeus (2de eeu n.C.) het die destyds bekende kennis van die hemelkunde, onder meer die navorsing van Hippokrates (2de eeu v.C.), in 'n katalogus saamgevat waarin hy sowat 1 000 sterre, wat in die Mediterreense lande waargeneem kon word, opgelys het. Hy het 48 sterrebeelde saamgestel, wat naas die twaalf beelde van die diereriem ook 21 noordelike en vyftien suidelike sterrebeelde ingesluit het. Sy werk het tot in die vyftiende eeu die mees belangrike bron vir die sterrekunde gebly en dien ook vandag nog steeds as 'n astronomiese standaardbron.
Dit was Europese ontdekkingsreisigers, wat 'n aantal suidelike sterrebeelde soos Crux (die Suiderkruis) waargeneem en beskryf het. Wetenskaplikes soos Johann Bayer (1572-1625), Johannes Hevelius (1611-1687) en Abbé Nicolas de Lacaille (1713-1762) het hulle by die bekende katalogus gevoeg.
De Lacaille het sy wetenskap in die gees van die Verligting beoefen en veertien van die moderne sterrebeelde afgebaken. Hy het hulle volgens die sterrekundige tradisie van die 17de en 18de eeu na voorwerpe vernoem wat in noue samehang met die wetenskaplike vooruitgang staan. Daar is dus sterrebeelde soos Telescopium (die teleskoop), Microscopium (die mikroskoop), Circinus (die kompas van die opmeters), Octans (die oktant, voorloper van die sekstant), Fornax Chemica (die chemiese oond) en Horologium (die klok) in die suidelike hemel.
Ander moderne sterrebeelde versinnebeeld volke en eksotiese diere, wat deur die Europeane in oorsese gebiede ontmoet en ontdek is, soos byvoorbeeld Indus (die Indiër) en Chamaeleon, wat in die jare 1595-1597 deur die Nederlandse seevaarders Pieter Keyser en Frederik de Houtman vasgelê is. Die Poolse sterrekundige Johannes Hevelius het die beeld Scutum (die wapenskild) ter ere van die Poolse koning Jan Sobieski III oorspronklik selfs Sobieski se Skild genoem.
Vandag word die sterrebeelde veral as 'n soort kartografiese stelsel gebruik, waarmee nuwe astronomiese voorwerpe met koördinate voorsien kan word. Sterre binne 'n sterrebeeld word volgens die rangorde van hulle helderheid met die letters van die Griekse alfabet genoem, Alpha Centauri is gevolglik die helderste ster in die beeld Centaurus.
Maar ten spyte van die astronomiese nugterheid het die bekoring van die antieke mitologiese beelde in die hemel bewaar gebly, en hulle name is nooit aangetas nie.
Lys van die 88 sterrebeelde[wysig | wysig bron]
Latynse naam | Afrikaanse naam | Afkorting | Latynse genitief | Hoofster | Vasgelê deur |
---|---|---|---|---|---|
Andromeda | Andromeda | And | Andromedae | Alpheratz (Sirrah) | Ptolemeus |
Antlia (Pneumatica)* | Lugpomp | Ant | Antliae | Lacaille | |
Apus | Paradysvoël | Aps | Apodis | Bayer | |
Aquarius | Waterman | Aqr | Aquarii | Sadalmelik | Ptolemeus |
Aquila | Arend | Aql | Aquilae | Atair | Ptolemeus |
Ara | Altara | Ara | Arae | Ptolemeus | |
Aries | Ram | Ari | Arietis | Hamal | Ptolemeus |
Auriga | Voerman | Aur | Aurigae | Capella | Ptolemeus |
Boötes | Beerwagter | Boo | Bootis | Arcturus | Ptolemeus |
Caelum [Caela Sculptori]** | Bytel** | Cae | Caeli | Lacaille | |
Camelopardalis | Kameelperd | Cam | Camelopardalis | Plancius | |
Cancer | Kreef | Cnc | Cancri | Acubens | Ptolemeus |
Canes Venatici | Jaghonde | CVn | Canum Venaticorum | Cor Caroli | Hevelius |
Canis Major | Groot Hond | CMa | Canis Majoris | Sirius | Ptolemeus |
Canis Minor | Klein Hond | CMi | Canis Minoris | Prokyon | Ptolemeus |
Capricornus | Steenbok | Cap | Capricorni | Deneb Algedi | Ptolemeus |
Carina | Skeepskiel (Sterrebeeld) | Car | Carinae | Canopus | Lacaille |
Cassiopeia | Cassiopeia | Cas | Cassiopeiae | Schedir | Ptolemeus |
Centaurus | Centaurus | Cen | Centauri | Rigil Kentaurus | Ptolemeus |
Cepheus | Kepheüs | Cep | Cephei | Alderamin | Ptolemeus |
Cetus | Walvis | Cet | Ceti | Menkar | Ptolemeus |
Chamelaeon | Chameleon | Cha | Chamaeleontis | Bayer | |
Circinus | Sirkel | Cir | Circini | Lacaille | |
Columba | Duif | Col | Columbae | Phakt | Plancius |
Coma Berenices | Haar van Berenike | Com | Comae Berenices | Diadeem | Ptolemeus |
Corona Australis | Suidelike Kroon | CrA | Coronae Australis | Alfecca Meridiana | Ptolemeus |
Corona Borealis | Noordelike Kroon | CrB | Coronae Borealis | Alphekka (Gemma) | Ptolemeus |
Corvus | Kraai | Crv | Corvi | Alchiba | Ptolemeus |
Crater | Beker | Crt | Crateris | Alkes | Ptolemeus |
Crux (Australis)* | Suiderkruis | Cru | Crucis Australis | Acrux | Hevelius |
Cygnus | Swaan | Cyg | Cygni | Deneb | Ptolemeus |
Delphinus | Dolfyn | Del | Delphini | Sualocin | Ptolemeus |
Dorado | Swaardvis | Dor | Doradus | Bayer | |
Draco | Draak | Dra | Draconis | Thuban | Ptolemeus |
Equuleus | Vul | Equ | Equulei | Kitalpha | Ptolemeus |
Eridanus | Eridanus | Eri | Eridani | Achernar | Ptolemeus |
Fornax (Chemica)* | Chemiese oond* | For | Fornacis | Fornacis | Lacaille |
Gemini | Tweeling | Gem | Geminorum | Castor | Ptolemeus |
Grus | Kraan | Gru | Gruis | Al Nair | Bayer |
Hercules | Herkules | Her | Herculis | Ras Algethi | Ptolemeus |
Horologium | Horlosie | Hor | Horologii | Lacaille | |
Hydra | Waterslang | Hya | Hydrae | Alphard | Ptolemeus |
Hydrus | Klein Waterslang | Hyi | Hydri | Bayer | |
Indus | Indiër | Ind | Indi | Bayer | |
Lacerta | Akkedis | Lac | Lacertae | Hevelius | |
Leo | Leeu | Leo | Leonis | Regulus | Ptolemeus |
Leo Minor | Klein Leeu | LMi | Leonis Minoris | Praecipua | Hevelius |
Lepus | Haas | Lep | Leporis | Arneb | Ptolemeus |
Libra | Weegskaal | Lib | Librae | Zuben el-Djenoebi | Ptolemeus |
Lupus | Wolf | Lup | Lupi | Ptolemeus | |
Lynx | Tierkat | Lyn | Lyncis | Hevelius | |
Lyra | Lier | Lyr | Lyrae | Wega | Ptolemeus |
Mensa | Tafelberg | Men | Mensae | Lacaille | |
Microscopium | Mikroskoop | Mic | Microscopii | Lacaille | |
Monocerus | Eenhoring | Mon | Monocerotis | Hevelius | |
Musca | Vlieg | Mus | Muscae | Hevelius | |
Norma | Winkelhaak | Nor | Normae | Lacaille | |
Octans | Oktant | Oct | Octantis | Lacaille | |
Ophiuchus | Slangedraer | Oph | Ophiuchi | Ras Alhague | Ptolemeus |
Orion | Orion | Ori | Orionis | Beteigeuze | Ptolemeus |
Pavo | Pou | Pav | Pavonis | Joo Tseo (Peacock) | Bayer |
Pegasus | Pegasus | Peg | Pegasi | Markab | Ptolemeus |
Perseus | Perseus | Per | Persei | Mirphak (Algenib) | Ptolemeus |
Phoenix | Feniks | Phe | Phoenicis | Ankaa | Bayer |
Pictor [Equuleus Pictoris]** | Skilder | Pic | Pictoris | Lacaille | |
Piscis Austrinus | Suidelike Vis | PsA | Piscis Austrini | Fomalhaut | Ptolemeus |
Pisces | Visse | Psc | Piscium | Alrischa | Ptolemeus |
Puppis | Agterdek van die Skip | Pup | Puppis | Naos | Lacaille |
Pyxis (Nautica)* | Skeepskompas (Kompas van die Seevaarder)** | Pyx | Pyxidis | Lacaille | |
Reticulum | Net | Ret | Reticuli | Lacaille | |
Sagitta | Pyl | Sge | Sagittae | Sham | Ptolemeus |
Sagittarius | Skutter | Sgr | Sagittarii | Rukbat | Ptolemeus |
Scorpius | Skerpioen | Sco | Scorpii | Antares | Ptolemeus |
Sculptor [Apparatus sculpturis]** | Beeldhouer (se ateljee)* | Scl | Sculptoris | Lacaille | |
Scutum | Skild | Sct | Scuti | Hevelius | |
Serpens | Slang | Ser | Serpentis | Unukalhai | Ptolemeus |
Sextans | Sekstant | Sex | Sextantis | Hevelius | |
Taurus | Stier | Tau | Tauri | Aldebaran | Ptolemeus |
Telescopium | Teleskoop | Tel | Telescopii | Lacaille | |
Triangulum Australis | Suidelike Driehoek | TrA | Trianguli Australis | Atria | Bayer |
Triangulum | Driehoek | Tri | Trianguli | Metallah | Ptolemeus |
Tucana | Toekan | Tuc | Tucanae | Bayer | |
Ursa Major | Groot Beer (Groot Wa) | UMa | Ursae Maioris | Dubhe | Ptolemeus |
Ursa Minor | Klein Beer (Klein Wa) | UMi | Ursae Minoris | Polaris | Ptolemeus |
Vela | Seil van die Skip | Vel | Velorum | Suhail al Muhlif | Lacaille |
Virgo | Jonkvrou | Vir | Virginis | Spica | Ptolemeus |
(Piscis) Volans* | Vlieënde Vis | Vol | Volantis | Bayer | |
Vulpecula | Vos | Vul | Vulpeculae | Hevelius |
Sterre wat met 'n '*' gekenmerk is, het vandag 'n verkorte naam sonder die gedeelte tussen hakies.
'**' dui name aan wat geheel gewysig is. Die oorspronklike naam word tussen hakies aangedui '[ ]'
Kleure: | Noordelike sterrehemel | Suidelike sterrehemel |
Eksterne skakels[wysig | wysig bron]
Soorte sterre en sterregroepe | |||||||||
|